En ek het gepleit / Va’etchanan Watter groot volk?

D’Var Torah

…En ek het gepleit / Va’etchanan

Watter groot volk?

 

Deuteronomium / Devarim 3:23 – 7:11

Jesaja / Yeshayahu 40:1 – 26

Markus / Mordechai 12:28 – 34

 

Deuteronomium / Devarim {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8}  En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? {4:9}  Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak:”.

 

Ek het onlangs gekyk na ‘n dokumentêr program oor die totstandkoming van die staat Israel, wat in 1945 plaasgevind het. Darin is werklike uitrekesels, sowel klank as videoopnames vertoon van David Ben Gurion, Israel se eerste Minister, waarin hy die skamele weermag en patriote wat vir hulle jong tuisland veg, gelei en aangemoedig het.

 

Hulle het geveg teen hordes Arabiese volkere, wat hulle aangeval en omsingel het. Dit het geblyk om ‘n onmoontlike situasie te wees. Ten spyte van hulle geringe getalle, swak opleiding, indien enige, en gebrek aan wapens en geskikte gevorderde wapentuig, het hulle die vyand egter wonderbaarlik verslaan en daarin geslaag om hulle sodoende weereens te vestig as ‘n Joodse staat, te midde van omringende vyandiggesinde volkere wat vasbeslote op hulle vernietiging ingestel was. Alleenlik God kon hulle van so’n oorwinning verseker.

 

Dit was soos in Bybelse tye toe Israel, met die hulp van God leërmagte, twee-en driemaal groter en sterker as hulleself, verslaan het.

 

Deuteronomium / Devarim {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? ”.

 

Ons God is ‘n ontsagwekkende God. Hy is naby Sy volk en beskerm Sy land.

Ek is gereeld in verbinding met vriende in Israel en verneem gevolglik van dinge wat dáár gebeur, wat nie aan die Westerse nuusmedia bekendgemaak word nie. So is ek by voorbeeld meegedeel van ‘n aanvallende missiel vanaf Hamas wat direk op die sentrale treinstasie van Tel Aviv geprojekteer was. Dit is ‘n digbevolkte en besige area met omringende groot kantoorblokke asook ‘n groot, moderne inkopiesentrum, wat altyd vol kopers is en passasiers wat na en vanaf die treinstasie beweeg. Die Israeliese weermag het ‘n “Iron Dome”-missiel afgevuur om die betrokke teiken vanuit die lug te tref maar dit het sy teiken gemis – iets wat hoogs uitsonderlik gebeur. ‘n Tweede missiel is onmiddelik daarna afgevuur, wat ook op onverklaarbare wyse nie die teiken getref het nieen selfs met ‘n derde missiel het dieselfde gebeur. Daar is sonder versuim ‘n bevel uigereik om die bogemelde area te ontruim en noodvoertuie asook dokters en ander mediese personeel op ‘n gereedheidsgrondslag te hou vir die behandeling van beseerdes. Daar was geen twyfel dat ‘n missiel sou tref en ongeëwenaarde lewensverlies en skade kon veroorsaak nie. Skielik is daar gerapporteer dat ‘n hewige sterk wind ontstaan het en die omvang daarvan teweeggebring het dat die issielbaan in so’n mate gewysig is dat dit skadeloos oor die kus beweeg en in die see gestort het. Die vraag ontstaan dus: was dit toeval of ‘n wonderwerk? Veel meer sulke voorvalle het tydens die huidige oorlog met Gasa gebeur; trouens, so dikwels dat dit hoegenaamd nie aan blote toeval gewyt kan word nie – dit is voorwaar wonderwerke!

 

Hamas en die ander Arabiere nasies kan beslis nie wen nie – hulle sal nooit oorwin nie. Nie op grond daarvan dat hulle nou teen ‘n beter toegeruste, beter opgeleide mag veg nie, maar omdat hulle die stryd teen die God van Israel voer en Hy die land nie aan húlle belowe het nie – Hy het dit aan die kinders van Israel belowe en:

 

Deuteronomium {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? ”.

 

Wees dus vol moed, julle wat deel is van – en ingesluit is onder God se volk – beide Jode en nie-Jode – omrede julle ‘n ontsagwekkende God dien en deel is van ‘n volk vir wie Hy sorg, in so’n mate dat julle ook met vertrou kan sê:

 

Deuteronomium {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? ”.

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather

Omdat – Ekev

D’Var Torah

Omdat – Ekev

Die werklikheid of bedrog

 

Torah: Deuteronomium / Devarim 7:12 – 11:25

Haftara: Jesaja / Yeshayahu 49:14 – 51:3

Brit Chadasha: Johannes Yochanan 15:1 – 17:26

 

Deuteronomium / Devarim {7:12} “En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; {7:13}  en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee. {7:14}  Geseënd sal jy wees bo al die volke; daar sal by jou geen man of vrou onvrugbaar wees nie, ook nie onder jou vee nie. {7:15}  En die HERE sal elke krankheid van jou wegneem en al die kwaai siektes van Egipte wat jy ken, nie op jou lê nie; maar Hy sal dit lê op almal wat jou haat. ”.

 

Sou julle nie saamstem dat dit ‘n wonderlike voorwaarde is nie? In ruil daarvoor dat ons God se gebooie onderhou, sal Hy ons seën met voorspoed en alle fisiese seëninge; trouens, dit klink byna te goed om waar te wees! Wat ons, deur die  ervaring van die kinders van Israel leer, is dat ons hier geskenk word met ‘n gewaarborgde voorskrif vir welvaart, gesondheid en voorspoed, maar laat ons eers ‘n bietjie wag om te verneem wat God verder sê:

 

Deuteronomium / Devarim {8:2} “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3}  En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. {8:4}  Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie. {8:5}  Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos ‘n man sy seun onderrig,”.

 

Hierdie gedeelte klink byna soos ‘n weerspreking van die inhoud van die voorafgaande Skrifgedeelte! Dit is egter in werklikheid nie die geval nie, want allereers ontstaan die vraag oor hierdie gedeelte: Is God dan nie alwetend nie, want na alles, sê dit vir ons dat God ons opregtheid in die onderhouding van Sy gebooie op die proef sal moet stel? Is Hy dus nie vertroud met die verlede, hede en toekoms nie? Dra Hy nie kennis van alles vanaf die begin van die tyd tot die einde van die tyd nie? Waarom moet God ons dan toets indien Hy bewus is van alles wat in ons harte aangaan?

 

Die antwoord is geleë in die feit dat daar baie bedrieglike / onegte gelowiges is. Niemand het tyd vir ‘n bedrieër nie, wat nog vir ‘n bedrieglike gelowige? Ons almal verkies egter om te verkeer met – en sake te doen met eerlike mense!

 

Psalm / Tehillim {27:11} “HERE, leer my u weg en lei my op ‘n gelyk pad, vanweë my vyande.”.

 

Wat die Psalmis hier sê, is: “Leer my hoe om te lewe soos wat U leef, Here. Leer my om eerlik te wees.”.

 

‘n Bedrieglike persoon gee voor wat hy / sy nie is nie (hy / sy probeer mense beïndruk en gee dus voor om méér te wees as wat hulle werklik is). Bedrieërs is ongelukkige mense omdat hulle altyd moet voorgee om iets of iemand te wees wat hulle in werklikheid geensins is nie. Eerlike mense daarenteen is as’t ware “deursigtig” – hulle is oop, vertrou hulself en wie hulle is).

 

Soos in die geval van menslike verhoudings, netso is dit ook met God. God verwag eerlikheid van ons. Ons kan nie voor God ‘n masker dra nie – ‘n mens kan dit probeer, maar Hy sien wat agter die masker is. Die Bybel leer ons dat God nie na ons uiterlike kyk nie, maar wel hoedat ons van binne lyk.

 

Baie mense onderhou God se gebooie omdat hulle godsdienstig is. Hulle glo meer in godsdiens en daarom dien hulle eerder godsdiens as om God te dien. Ongelukkig is hierdie mense nie altyd eers bewus daarvan dat hulle godsdienstig is nie. Dikwels word hulle deur mense om hulle, nie as godsdienstig beskou nie, maar eerder as opmerksame, toegewyde dienaars van die Here. Alleenlik deur hulle op die proef te stel – soos in die tweede Skrifgedeelte beskrywe – sal hulle harte blootgelê word nie aan God nie, maar aan diegene om hulle, asook aan hulleself.

 

God toets ons eerlikheid! Sonder twyfel ken Hy ons van binne en van buite, maar ken ons onsself? Ken ander mense ons – wie óns werklik is? Dit is waaroor verootmoediging, soos in Deuteronomium 8:2 gemeld, eintlik gaan! Verootmoediging skei die werklike gelowiges van die onegte gelowiges; eersgenoemde sal die beloftes, soos in Deuteronomium 7:12 – 15 vervat, ontvang terwyl die bedrieërs ontbloot sal word vir wie hulle werklik is.

 

Congregation Melech Yisraelalle regte voorbehou

 

 

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather

Vaders raak betrokke! – Matot

D’Var Torah

Stamme – Matot

Vaders raak betrokke!

 

Torah: Númeri / Bamidbar 31:1 – 42

Haftara: Jeremía / Yirmeyahu 1:1 – 2:3

Brit Chadasha: Matthéüs / Mattityahu 23:1 – 39

 

Númeri / Bamidbar {30:1} “En Moses het met die stamhoofde van die kinders van Israel gespreek en gesê: Dit is die saak wat die HERE beveel het: {30:2}  As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan. {30:3}  Maar as ‘n vrou aan die HERE ‘n gelofte doen of haarself verbind om haar te onthou, terwyl sy in haar vader se huis is in haar jeug, {30:4}  en haar vader van haar gelofte hoor of van die onthouding waartoe sy haarself verbind het, en haar vader swyg teenoor haar, dan sal al haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees. ”.

 

Dit blyk ‘n redelike voor-die-hand-liggende Skrifgedeelte te wees en so is dit ook. Indien ons dit egter ietwat van nader beskou, is daar ‘n baie belangrike boodskap aan vaders en hoofde van huishoudings hierin vervat. Wat God hier sê, is dat vaders wat hoofde van huishoudings is altyd pro-aktief in die lewens van hulle kinders moet optree, want al te dikwels laat ouers hulle kinders aan hulle eie genade oor. Hulle voer dan die verskoning aan dat hulle hul kinders vertrou en wil hulle vermoëns gevolglik nie aan bande lê om eerlike, redelike en weldeurdagte besluite op hulle eie te neem nie. Die feit is egter dat alhoewel dit die indruk van goeie ouerskap mag skep – want ons wil tog ons kinders vertrou – dit beslis nie Bybels is nie. God vereis dat vaders as hoofde van hulle huishoudings, werklik betrokke moet wees by die lewens van hulle kinders. Dit behels dus dat hulle kennis behoort te dra van wie hulle kinders se vriende is, met wie hulle gesels, wie hulle kontakte op “Facebook” en elke ander vorm van sosiale media is. Indien julle as ouers nalaat om dit te doen, versuim julle jul plig om ooreenkomstig die gebooie (mitzvah) te sorg dat julle kinders hulle geloftes nakom. Dit is feitlik seker dat julle kinders nie vrywillig sodanige inligting aan hulle vaders sal verstrek nie.

 

‘n Verdere ongelukkige feit is dat die vader sy verantwoordelikheid om die kinders te moniteer, aan die moeder oorlaat. Ook dit is on-Bybels en veroorsaak ‘n onnatuurlike huishouding waar die moeder – in plaas van die vader – die gesagsrol moet handhaaf. Vaders, indien julle nalaat om aktief betrokke te raak by die lewens van julle kinders, soos wat God hier aan ons verduidelik, sal alles wat húlle doen en sê geld. Ingeval hulle dus ‘n swak –of verkeerde besluit geneem het, sal dit ‘n vernietigende uitwerking op sowel die kinders se lewens as die hele gesin hê.

 

Wanneer ek vaders al by geleentheid berispe het oor hulle gebrek aan ouerlike toesig, haal hulle feitlik altyd die volgende Skrifgedeelte aan om hulleself te regverdig dat hulle nie oordrewe betrokke geraak het by die lewens van hulle inders nie:

 

Kolossense / Kolosim {3:21} “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie. ”.

 

Hierdie gedeelte word natuurlik geheel-en-al buite verband deur hulle aangehaal. Indien ons egter die verse wat hierdie teksvers voorafgaan, lees, kan ons bepaal wat Paulus (Shaul) in gedagte gehad het toe hy hierdie woorde aan die Kolossense gerig het:

 

Kolossense / Kolosim {3:16} “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. {3:17}  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”.

 

Gelei deur hierdie aanvangsverse as ons gids, sê Paulus vir die vaders dat, wanneer hulle met hulle kinders verkeer, hulle vir hulle psalms, lofsange en geestelike liedere moet sing, sodat aan hulle raad gegee behoort te word in alle wysheid en alles wat hulle doen, gedoen behoort te word in die naam van die Here Jesus, met danksegging aan God die Vader. Indien hulle egter enigiets anders as dit doen, sou hulle die kinders terg sodat hulle moedeloos word en wegdraai van God en Sy toorn op hulle laat neerkom. Vaders, raak betrokke!

 

Congregation Melech Yisraelalle regte voorbehou

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather

God ontmasker die bedrieërs – Korach

D’Var Torah

Korag / Korach

God ontmasker die bedrieërs

 

Númeri / Bamidbar 16:2 – 18:32

1 Samuel / Shmuel Alef 11:14 – 12:22

Lukas / Uri 18:35 – 19:28

 

Númeri / Bamidbar {16:5} “en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die HERE bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.”.

 

My eggenote en ek is tans in ons 19de jaar van bediening hier by die Gemeente Melech Yisrael. Gedurende hierdie tyd het ons vele mense sien kom en gaan, met die gevolg dat ons dikwels gevoel het asof dit bloot ‘n treinstasie was waardeur mense onderweg na ander Messiaans-Joodse gemeentes beweeg het. Die feit is, trouens, dat daar in heelwat nuwer gemeentes mense is wat voorheen hier aanbid het maar om een of ander rede vertrek het. Ons is egter seker dat elkeen wat na Melech Yisrael gekom en vir ‘n bepaalde tyd gebly het, ons telkens meegedeel het hoedat hulle ons gevind het en die seën wat hulle ervaar het om eindelik so geestelike tuiste te vind.

 

Die rede waarom ek hierna verwys, is omdat my eggenote en ek oor die jare heen ‘n patroon en wyse gevind het om die egtheid van mense se harte teenoor God en ons te ontbloot. Soos reeds gesê, kom elkeen met opgewondenheid en groot verwagtings hier aan en solank hulle nie moeilikheidmakers blyk te wees nie, verwelkom ons hulle met ope arms. ‘n Verskynsel wat ons nog altyd by sulke nuwe aankomelinge ervaar het, is hulle toewyding aan God, toewyding aan die bywoning by die kehila, getrouheid met hulle tiendes en diens. Ons, daarenteen, volstaan met die Bybelse riglyn:

 

1 Timótheus / Timoteos Alef {5:22} “Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.”.

 

Die toepassing van hierdie riglyn was vir ons nog altyd baie doeltreffend in soverre dat ons enigiets van ses maande tot twee jaar wag voordat ‘n nuwe lidmaat by ‘n bediening hier by die kehila betrek word. Die duur van die wagperiode word bepaal deur die tipe bediening waarby so ’n persoon betrek sal word. Indien daar dus enige teenstrydigheid in die persoon se lewe is, sal dit teen daardie tyd reeds geblyk het. In die geval van sommige mense mag dit moontlik langer neem as met ander maar volgens ons Skrifgedeelte uit parasha Korag, trek God die opregte aanbidders nader aan Hom en verwerp Hy diegene wat hulle eie agendas het.

 

Dit gebeur tog soms dat sommige mense selfs ná die tweejaar-wagperiode ons bedrieg. Ons het egter één onfeilbare metode gevind deur noukeurig te let op die betroubaarheid, getrouheid en toewyding van ‘n persoon wanneer hy in ‘n bediening geplaas word. Ons het ondervind dat sodra ‘n persoon werklik in ‘n bediening geplaas word, hy óf faal en begin terugsak. Interessant genoeg is wanneer iemand homself in die terugsakkingsproses bevind, hy nooit die fout by homself soek nie maar altyd by ons.

 

Was dit nie ook die fout met Korag en sy groep nie? God het aan hulle, as Leviete, ‘n verhewe posisie onder die kinders van Israel verleen, maar in hierdie gesagsposisie, wat ‘n mens sou verwag dat hulle meer lojaal en toegewyd in hulle diens aan God en Moses moes wees, het hulle begin terugsak en rebelleer. Interessant genoeg het ook hulle nie hulself blameer nie, maar die blaam op ander geplaas.

 

Númeri / Bamidbar {16:3} “En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE? ”.

 

Korag en sy groep het ‘n spirituele vervlakking ondergaan en dit blyk asof dit ontstaan het deurdat hulle hulsef in ‘n leierskapsposisie bevind het; ‘n effek van leierskap, soortgelyk aan wat ons hier by Melech Yisrael ondervind nadat iemand in ‘n leierskapsposisie geplaas is.

 

Mense is geneig om twee uiteenlopende gesigte voor te hou: één wat hulle graag wil hê jy moet sien maar ‘n ander wat metterheid deur hulself openbaar word. Is ons nie geseënd dat God diegene wat Hy uitverkies na Hom toe trek en die bedrieërs verwerp en onthul nie!

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather

Jy kan verduur – Beha’alotcha

D’Var Torah

Volhard in dit wat jy doen– Beha’alotecha

Jy kan verduur

 

Numeri  / Bamidbar 8:1 – 12:16

Sagaria / Z’charya 12:14 – 4:7

Lukas / Uri 17:11 – 18:14

 

Numeri {11:11} “En Moses sê aan die HERE: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê? {11:12}  Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ‘n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ‘n eed beloof het? {11:13}  Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet. {11:14}  Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar. {11:15}  En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.”.

 

Wanneer ‘n mens aan Moses dink, is ons geneig om hom as ‘n tipe geloofsheld, voor te stel, ‘n man – groter as lewensgroot – wat God volkome vertrou het en onwrikbaar was in sy besluit om die wil van God uit te voer. Die bovermelde Skrifgedeeltes skets egter ‘n algeheel ander beeld van hom. Het Moses miskien net ‘n onaangename dag beleef? Het hy op hierdie betrokke oggend met die verkeerde voet uit die bed opgestaan? Het hy ‘n slapelose nag agter die rug gehad? Was dít die rede waarom Moses in moedeloosheid verval en God versoek het om hom uit sy ellende te verlos? Ek meen dat dit nie die geval was nie. Moses was nie ‘n bonatuurlike mens wat waardig was om verafgod te word nie. Die feit is dat hy slegs ‘n doodgewone man was, blootgestel aan angs, vrees, twyfel en skynbare aanvalle van depressie; met ander woorde, hy was maar net soos ons is. Na alles, wie sou nie fisies en geestelik geknak het onder die geweldige las om dag na dag miljoene mense se klagtes en murmurerings te moet aanhoor nie? Ja, Moses was ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias maar laat ons dit besef, hy wás nie Jesus die Messias nie! Jesus self het, trouens, gewanhoop oor die las wat Hy moes dra.

 

Matthéüs / Mattityahu {26:38} “ Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. {26:39}  En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”.

 

Nee! Moses was hoegenaamd nie iemand besonders nie, behalwe dat hy deur God aangewys is om ‘n baie besondere taak uit te voer; trouens, as dit nie was dat God hom versterk, aangemoedig en by hom was nie, glo ek dat Moses ongetwyfeld onder die druk sou geknak het.

 

Hierdie wete vertroos ‘n mens darem en behoort vir ons ook tot bemoediging te dien. Hoeveel male het die lewenslaste, probleme, moeilikhede en sorge van die lewe ons nie al in so ’n mate ondergekry nie dat ons die punt bereik het om tou op te gooi en uit te roep: “Neem my weg God, ek het genoeg verduur, ek kan dit nie langer uithou nie, ek kan nie langer so voortgaan nie!”.

 

Erken dat jy al so gevoel het, want ekself het dit al ervaar. Waarom sou ons dan nie bemoedig word deur die woorde van Moses in die betrokke Skrifgedeelte (aangehaal) nie? Moses was miskien nie bomenslik nie maar hy was ‘n held en dít met die hulp van God en Sy ondersteuning. Op grond daarvan kan ons almal helde wees, ongeag ons emosionele en geestelike broosheid.

 

Daar is iets verder wat ons uit hierdie Skrifgedeeltes kan leer en, trouens, uit die hele Tora-dialoog naamlik dat Moses nooit tou opgegooi het nie! Ofskoon hy ongetwyfeld onderhewig was aan angs en depressie, het hy dit hom nie laat onderkry nie en dit beteken die onderskeid tussen om ‘n held of ‘n lafaard te wees. ‘n Held gee nooit die stryd gewonne nie of laat toe dat sy gevoelens hom sodanig oorweldig dat hy tou opgooi nie.

 

1 Korinthiërs / Korintim Alef {10:13} “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”.

 

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather

Om te sterwe aan die self – Om te lewe vir God

D’Var Torah

In die wildernis – Bamidbar

Om te sterwe aan die self – Om te lewe vir God

 

Númeri / Bamidbar 1:1 – 4:20

Hoséa / Hoshea 2:1 – 22

Lukas / Uri 16:1 – 17:10

 

Númeri / Bamidbar {1:47} “Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie. {1:48}  Die HERE het naamlik met Moses gespreek en gesê: {1:49}  Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie; {1:50}  maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan. “

 

Númeri / Bamidbar {3:9} “En jy moet die Leviete aan Aäron en sy seuns gee; hulle is heeltemal aan hom gegee uit die kinders van Israel. {3:10}  Maar Aäron en sy seuns moet jy aanstel, dat hulle hul priesteramp kan waarneem; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word. ”.

 

Die Leviete (Leviim) was ‘n geseënde en gesalfde stam. God het hulle uit al die stamme van Israel gekies om Hom te dien deur aan Aäron (Aharon) en sy seuns van diens te wees. Soos ons kan sien, het God dit egter duidelik gestel dat hulle hul tot hulle eie verantwoordelikhede sou beperk en nie begeer of probeer aanmatig om die verantwoordelikhede van Aäron of sy seuns op hulle te neem nie.

 

Die Leviete was in drie stamgroepe (“clans”) verdeel, waarvan elkeen sy eie verantwoordelikhede gehad het; één stamgroep mag nooit op die ander se verantwoordelikhede uitruil nie. Elkeen s’n was ‘n individuele, permanente verantwoordelikheid. Die vaders van elke stamgroep sou hulle seuns onderrig en dus hulle onderskeie take aan hulle oorlewer om sodoende die take van die betrokke stamgroep van geslag tot geslag te verewig. Dieselfde het ook vir die gewone Israel gegeld, in soverre dat die vaders altyd hulle seuns húl ambag geleer het. Ons sien dit ook in die geval van Jesus. Sy stiefvader, Josef, was ‘n skrynwerker en dus het Hy, met behulp van Josef se “vakleerlingskapopleiding”, Hom ook as ‘n skrynwerker bekwaam. Tot en met die middel van die 1900’s, was dit in Noord-Amerika die algemene praktyk en is dit, trouens, steeds die geval in baie van die ontwikkelende lande van die wêreld.

 

Baie vanne, veral onder die Jode, dui op die ambagte wat hulle voorvaders beoefen het, soos byvoorbeeld my van Farber. Dié van is oorspronklik Duits-Jiddisj en beteken “verwer / verkleurder”, wat di took met kleur of verwer vereenselwig. Die moontlikheid bestaan dus dat my voorouers betrokke was by kleur, verf of verkleuring (“dyeing”).

 

Ek glo dat God volkomenheid van ons verwag: Hy verlang da tons Hom na die beste van ons vermoë en met al ons krag sal dien. Watter beter wyse is daar as om in volkome toewyding altyd op dieselfde wyse diensbaar aan Hom te wees! Herhaling maak ons bedrewe! My eie ondervinding staaf hierdie waarheid. Wanneer ek iets nuuts doen, is daar altyd ‘n leerkurwe. Dit kan my enigiets van ‘n week tot ‘n maand neem voordat ek aan ‘n nuwe taak gewoond raak. Dit verg tyd om iets nuuts aan te leer, maar as ‘m mens dit ten ene male aangeleer het en beoefen, word dit ‘n tweede natuur. ‘n Taak wat aanvanklik moeilik en omslagtig was, word deur gereelde herhaling, maklik en volmaak. Ek is oortuig daarvan da tons almal een of ander tyd in ons lewe dít wat ek sê, alreeds ondervind het.

 

Herhaling kan egter problematizes raak en ongelukkig is dit soos ons menslike natuur is. Ons raak verveeld om dieselfde ding oor en oor te doen, veral wanneer dit werk betref. Soos ons in ‘n toekomstige parasha sal merk, is dit presies wat met die Leviete gebeur het. Indien ons God gaan dien op die wyse waarop Hy verlang om gedien te word, sal ons aan herhaling móét gewoond raak. Verveeldheid is dus iets wat ons móét te bowe kom in ons nimmereindigende strewe om ons redding te verwenselik; trouens, dit beantwoord juis aan die beginsel om aan onsself te sterwe en om vir God te lewe.

 

 

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather

Doen dit aan hulleself – Bechukotai

D’Var Torah

My Verordeninge / Bechukotai

Doen dit aan hulleself

 

Levitikus / Vayikra 26:3 – 27:34

Jeremia / Yirmeyahu 16:19 – 17:14

Lukas / Uri 14:1 – 15:32

 

Levitikus / Vayikra {26:14} “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; {26:15}  en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek {26:16}  dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. {26:19} En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. {26:21}  En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes. {26:27}  As julle ook hierom nie na My luister nie, maar julle teen My versit, {26:28}  sal Ek My in grimmigheid teen julle versit, en Ek sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes. ”.

 

Hoe kan iemand so aanmatigend wees om te dink dat hy / sy met enigiets kan wegkom wat hulle teen God en Sy gebooie pleeg? Tog is daar talle mense wat dit doen! Ongelukkig weet ek van mense wat vanweë hulle ongehoorsaamheid verskriklik ly onder die hand van God. Mense wat dink dat hulle niks verkeerds gedoen het nie en trouens onder die valse indruk verkeer dat hulle goeie mense is; nietemin ly hulle, nie vanweë die goeie wat hulle gedoen het nie, maar vanweë dít wat verkeerd was.

Baie van hierdie mense erken dat hulle nie kon aanvaar of glo aan ‘n God wat sulke verskriklike dinge aan hulle gedoen het nie en kla daaroor by Hom of ontken selfs dat Hy bestaan. Hulle beweer: “Hoe kan ek aan God glo wat sulke verskriklike dinge aan my doen?” Die feit is egter dat dit nie God is wat dit aan hulle doen nie, maar hulle wat dit aan hulleself doen! Indien hulle net sou tyd inruim om die Woord van God – die Tora – te lees, sou hulle tot die besef kom dat God nie willekeurig kwade dade pleeg nie – Hy doen dit wel in reaksie op ‘n persoon se ongehoorsaamheid aan Sy gebooie (mitzvot).

Dieselfde persone wat kla oor wat God hulle aandoen, is juis diegene wat nooit Sy Woord lees nie. Hulle besef dus nie dat die Skepper van die heelal, almagtig en alwetend is nie, dat Hy nie bespot of ondervra kan word nie en dat Hy kwaad met kwaad en goed met goed sal vergeld. Omdat hulle nie Sy Woord lees nie, besef hulle gevolglik nie wat God as goed of wat Hy as kwaad reken nie. Wanneer iemand hulle daaroor waarsku, steur hulle hulself bloot nie daaraan nie.

Dit bring my by die betrokke vers wat ek hierbo aangehaal het {26:19} “En ek sal julle sterke trots verbreek…”.

Hierdie vers bevat die kern van dié persone se problem: die trots wat hulle in hul eie krag het. Hulle verkeer onder die indruk dat hulle onafhanklik van God kan lewe, dat hulle hul eie lewe na willekeur kan voer, dat hulle hule eie reëls kan bepaal en ofskoon hulle besef dat hulle onderhewig aan die betrokke nasie se wetlike stelsel is, voel hulle geensins verantwoordelik aan dié God wat alle volkere en alles verder wat bestaan, geskep het nie. Gevolglik onteer hulle Sy Sabat, verontagsaam Sy wette met betrekking tot wat hulle mag eet of nie eet nie, skinder, lieg, verkul en doen verder alles wat met die Woord van God teenstrydig is. Dan han hulle kwansuis nie verstaan waarom hulle lewens gebuk gaan onder sorge en verdriet nie…

Ek het by geleentheid ‘n grap gehoor, wat ek graag met julle wil deel: “n Groep wetenskaplikes het aangekondig dat hulle ‘n baie belangrike wetenskaplike deurbraak bereik het. Hulle het die geheim van skepping uitgevind en ‘n dier uit die grond van die aarde geskep. Synde ateïste, het hulle dus die geldigheid van ‘n skepper uitgedaag en besluit om aan die ganse wêreld te bewys dat daar geen God was nie omdat wetenskap nou kon skep. Ter voorbereiding van hulle demonstrasie, het hulle ‘n hoop grond (“dirt”) bymekaar gemaak en aangekondig dat hulle ‘n koei gaan skep. Skielik, te midde van hulle demonstrasie, het ‘n luide stem vanuit die hemel geklink en God het gesê: “Gebruik julle die grond!”.

Vandeesweek se parasha behoort as ‘n oproep te dien aan almal wat hierdie uiteensetting (drash) lees. Indien julle God se verordeninge eerbiedig en Hom vereer, sal julle geseën word, maar as julle dit nie gehoorsaam nie, PASOP!!!

Congregation Melech Yisraelalle regte voorbehou

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather

God se genade oor Israel – Behar

D’Var Torah

Op die berg / Behar

God se genade oor Israel

 

Levitikus / Vayikra 25:1 – 26:2

Jeremia / Yirmeyahu 32:6 – 27

Lukas / Uri 13:1 – 33

 

Levitikus / Vayikra {25:1} “VERDER het die HERE met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê:{25:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou vir die HERE.{25:3}Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;{25:4}maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ’n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.”.

 

Daar is iets besonders uniek aan Eretz Yisrael (die land Israel), wat in geen ander land ter wêreld die geval is nie en dit is dat dié land aan God behoort. Dit is gewis so, dat God die ganse wêreld besit en Hy na goeddunke daarmee handel, maar Israel is buitengewoon en ons kan dit verstaan in die lig van die voorwaardes wat God aan die volk Israel opgelê het toe Hy die land aan hulle gegee het. Ja, God het die land Israel aan die kinders van Israel toegesê, maar hulle het dit nie besit nie. Dit was en is ‘n ewigdurende gawe, maar net soos ons aan die hand van die bepalings van die Yovel-jaar (jaar van vrystelling) aflei, sal die land altyd aan God behoort.

 

Levitikus / Vayikra {25:2} “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou vir die HERE.”.

 

Ek kan vele Skrifgedeeltes aanhaal waar God die land Israel Sy land noem. Hier volg slegs twee daarvan:

 

Jeremia / Yirmeyahu {2:7} “En Ek het julle gebring in ’n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my land verontreinig en my erfenis ’n gruwel gemaak.”.

Joël / Yoel {3:2} “sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.”.

 

Dit is duidelik dat daar in die Skrif na geen ander land in die wêreld verwys word as Sy land nie en juis om daardie rede, het Hy sulke besondere voorbehoude op die gebruik daarvan neergelê, soos in hierdie week se parasha gemeld word.

 

Wat ons basies leer uit hierdie parasha is dat ofskoon God die land Kanaän (Canaan) aan die kinders van Israel gegee het, was hulle slegs pagters (huurboere) en kon daar selfs na hulle verwys word as vreemdelinge in die land van God.

 

Parasha Behar lui behoorlik soos ‘n pagterskontrak. Daarvolgens bepaal God die voorwaardes betreffende die bewoning van die land. Aangesien die land nie aan hulle behoort het nie, kon hulle dit dus nie lewenslank verkoop nie en moes hulle daarmee optree soos wat God met Sy ganse skepping optree: Dit moes ook ‘n Sabbat (jaar) geniet. Toe God die aarde geskep en gesê het:

 

Genesis / Bereshit {2:2} “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. {2:3} En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”.

Nadat God die skepping voltooi en Hy op die Sabbat gerus en dit geheilig het, was dit ook op die skepping van die aarde van toepassing: derhalwe is die hele aarde onderhewig aan hierdie rus en nie slegs die Joods volk of die land Israel nie.

 

Daar is al dikwels by my verneem of die Sh’mitah (Sabbatjaar) – en Yovel-jare toepaslik is op al die lande van die aarde of uitsluitlik op Israel. My antwoord was nog altyd: “Slegs op Israel”. Hierdie antwoord het ek gegrond op God se woorde in ons parasha: “As julle in die land inkom wat Ek julle gee …”; ek het met ander woorde tot die gevolgtrekking gekom dat die jare van Sh’mitah – en Yovel, slegs toepaslik is op die land wat God aan die kinders van Israel gee. Ek het verder afgelei dat dit ‘n buitengewone land is wat verskillend van al die lande van die wêreld, geag moet word. Soms bevraagteken ek egter daardie wysheid!

 

Israel was bestem om dié voorbeeld-nasie te wees, met ander woorde, ‘n voorbeeld vir die res van die nasies, soos in die volgende Skrifgedeelte gestel:

 

Deuteronomium / Devarim {4:6} “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk.”.

 

Met inagneming hiervan, tesame met die feit van universele rus op die Sabbat, geld die jare van Sh’mitah en Yovel moontlik universeel. Ongelukkig beoefen nie die hele Israel dit nie en kom ook nie in geheel die Torah en gebooie daarvan na nie. Bid asseblief om God se genade oor Israel.

 

Congregation Melech Yisraelalle regte voorbehou

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather

Loof God – Kedoshim

D’Var Torah

Die heiliges – Kedoshim

Loof God (Baruch HaShem)

Levitikus / Yayikra 19:1 – 20:27

Amos 9:7 – 15

Matthéüs / Mattityahu 5:43 – 48

 

Levitikus / Vayikra {20:8} “En onderhou my insettinge en doen dit. Ek is die HERE wat julle heilig. {20:9}  Want elkeen wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word. Hy het sy vader of sy moeder gevloek. Sy bloedskuld is op hom. {20:10}  En as iemand owerspel doen met ‘n man se vrou, owerspel doen met sy naaste se vrou, moet hy en sy wat owerspel doen, sekerlik gedood word. {20:11}  En as ‘n man met sy vader se vrou gemeenskap het, het hy die skaamte van sy vader ontbloot. Hulle altwee moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle. {20:12}  En as ‘n man met sy skoondogter gemeenskap het, moet hulle altwee sekerlik gedood word. Hulle het ‘n gruwelike vermenging bewerk. Hulle bloedskuld is op hulle. {20:13}  En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle. ”.

 

Nadat ek die bovermelde Skrifgedeelte van hierdie week se parasha deurgelees het, loof ek God dat Hy Jesus die Messias gestuur het om vir my sondes te sterf, want indien Hy nie gekom het nie en ek nog in die Bybelse tye geleef het, sou ek gesterf het: gestenig omdat ek ten minste één van die gemelde sondes gepleeg het.

 

Dink net daaraan. Ek is oortuig daarvan dat baie van ons wat vandag reeds gered is, een of ander tyd skuldig sou gewees het aan ten minste één van die sondes wat in vandeesweek se les gemeld word. Indien ons dus in die Bybelse tye geleef het, sou daar vir ons geen geleentheid tot berou gewees het nie. Daar is in die Skrif absoluut geen aanduiding om ‘n diere-offer aan te bied as plaasvervanger vir die gemelde sondes nie – slegs om gestenig te word. Soos reeds genoem, het ek in een van dié sondes verval – dus sou ek onder ‘n doodstraf verkeer het met geen hoop op begenadiging nie.

 

Indien daar ooit ‘n onderskeid tussen die Tora en die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) was, is dit juis dit! Loof God dat ontugtiges, egbrekers, mense wat bloedskande pleeg, homoseksueles en soortgelyke oortreders, nou berou kan hê, gered word en van allerbelang “Weer Gebore” word. Aan hulle word ‘n tweede geleentheid gegun vanweë die dood en opstanding van Jesus die Messias.

 

1 Korinthiërs / Korintim Alef {6:9} “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? {6:10}  Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. {6:11}  En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God. ”.

 

Wat Paulus (Shaul) hier skryf, sou drieduisend jaar gelede onmoontlik gewees het. Ons uitroepe van: “Ek is jammer, ek het berou, ek smeek God om vergifnis”, sou op dowe ore geval het terwyl hulle ons weggesleep het om gestenig te word.

 

Dit maak my beangs omdat ek mense ken wat nog steeds of in die verlede betrokke was in die bovermelde sondes, maar dit nog nie berou nie, God nog nie om vergifnis gesmeek het nie en Jesus die Mesias nog nie as hulle Here en Redder aanvaar het nie. Ofskoon niemand vandag meer gestenig word nie, verkeer hulle vanweë hulle sonde steeds onder die doodsvonnis van God. Loof God egter vandag, omdat solank daar nog lewe is, daar hoop is. Nadat ek Jesus die Messias as my Here en Redder aangeneem het, het my hele lewe verander. Alhoewel ek nog in my vlees ly vanweë die gevolge van my vorige lewenstyl, word my gees daagliks vernuwe en getuig ek vrymoediglik aan ander wat tans nog vasgevang is in die soort sondes waarin ek betrokke was. Ek hoop dat hulle ook die lig sal sien, bely, berou ervaar en Jesus die Messias as hulle Here en Redder aanneem!

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather

Die Torah van God is volmaak

D’Var Torah

Paasfees / Pesach

Die Torah van God is volmaak

Eksodus / Shemot 33:12 – 34:26

Eségiël / Yehezqel 37:1 – 14

Johannes / Yochanan 11:38 – 57

 

Eksodus / Shemot {33:12} “Toe het Moses met die HERE gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind. {33:13}  As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is. ”.

 

Die lesse uit hierdie week se parasha volg op die insident van die goue kalf. Ons lees dat God duidelik vir die kinders van Israel kwaad was en Moses as gevolg daarvan verpletterd gevoel het; trouens, hy was so verbysterd, verward en in twyfel oor wat God sou doen, dat hy die vraag in die bovermelde verse gevra het: “ …maak my dan tog u weë bekend, dat ek u kan ken; …”. Waarom sou Moses dan dié vraag aan God gestel het, want hy het God tog sekerlik geken? Hy het Hom immers beter geken as enigeen in sy tyd en waarskynlik selfs beter as sy voorvaders. Nietemin het Moses op hierdie tydstip van die verhaal bely dat hy God en Sy weë nie werklik begryp nie.

Ons moet egter in gedagte hou dat Moses in dié stadium nie die hele Tora gehad het nie aangesien dit nog in die proses van geskryf word, was. Die Hebreeuse Skrifte (Tanach) was ook nog nie geskrywe nie, met die gevolg dat – so anders as in ons geval – Moses oor geen leiding met betrekking tot ‘n begrip van God en Sy weë beskik het nie. Syne was ‘n dag-vir-dag wandel met God; elke stap wat hy met God geneem het, was dus ‘n leerervaring. Hy het dus geen vorige ervaring gehad nie, geen geskrewe skrifte om te raadpleeg nie – daar was niks om na te verwys nie.

Dit is gevolglik verstaanbaar dat toe God Sy toorn teen die kinders van Israel openbaar het, Moses radeloos en verward was en nie geweet het wat om te verwag nie.

Op grond van die verhaal, kan ons aflei dat hy inderdaad desperaat was omdat hy niks verkeerd wou doen nie, soos wat uit sy woorde:” …sodat ek genade in u oë kan vind.” blyk. Hy was, trouens, te bevrees om iets te doen vir ingeval sowel hy as die volk die guns van God sou verbeur.

Vandag is dit met ons egter nie so gesteld nie. Ons beskik oor die Tora in oorspronklike Hebreeus en boonop oor ‘n menigte vertalings en kommentare op die Tora, wat aan ons die nodige begrip en insig in die karakter van God verstrek. Ons het die geskrifte, die profete en die Psalms. Daarbenewens beskik ons oor die Hernieude Verbond (Brit Chadasha). Al hierdie boeke vorm die volledige Bybel, wat aan ons ‘n algehele begrip van God en Sy weë verstrek. Dit is dus vir ons nie nodig om soos Moses te sê nie: ” … maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind.”, omdat ons al die inligting vryelik tot ons beskikking het en natuurlik het ons die Heilige Gees (Ruach HaKodesh). God se karakter is duidelik aan ons geopenbaar in die bladsye van die Bybel.

Met inagneming van die feit dat ons ‘n God dien, wat gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde is, hoef ons slegs te verstaan wat Hy in ‘n sekere omstandigheid van ons lewe wil doen, deur terug te gaan op die bladsye van die Bybelse geskiedenis, soos in Sy Woord aangeteken en daar vind ons die antwoord.

Psalms / Mizmor {19:8} “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. {19:9} Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë. {19:10} Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig. {19:11} Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop. {19:12} Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon. ”.

 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

 

 

 

facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedintumblrmailby feather